Bekende en gewilde joernalis dood aan hartaanval

Share the news!!!

Willie Buys

‘n Baie bekende Suid-Afrikaanse veteraan-joernalis, wat ook diep  spore getrap het in ander media en die skakelwese, is die afgelope week aan huis van sy  dogter in Johannesburg insy slaap na ‘n hartaaanval dood.

Hy was mnr. Andries Jacob Botha (72) van Roosevelt Park. was wyd bekend in veral koerantkringe. Hy het inverskeie hoedanighede in vooraanstaande koerante gedien nadat hy in 1963 ‘n graad behaal het aan die Potchefstroomse Universiteit. Hy was onder meer politieke korrespondent, nuusredakteur en assistent-redakteur by leidende Suid-Afrikaanse dagblaaie.

In 1978 het Andries ‘’n toekenning vir ondernemende joernalistiek in nasionale koerante gewen met ‘n projek wat gelei het tot die vrylating van dr. Nthato Motlana en Aggrey Klaaste, later redakteur van The Soweton, uit die gevangenis waar hulle sonder verhoor aangehou is in die nadraai van die Soweto-opstande in 1976.

Daarna het hy ‘n loopbaanverandering gemaak deur te gaan werk in ontwikkelings-kommunikasie en bemarking, maar altyd kontak behou met en later selfs teruggekeer na sy groot liefde, die joernalistiek. Die laaste dekade van sy lewe het hy hoofsaaklik bestee aan sy ander groot liefde, die skryfkuns en ‘n paar boeke het uit sy pen verskyn.

Hy was ‘n man met ‘n onblusbare sin vir humor en van sy oud-kollegas het gesê hulle het hom amper nooit in ‘n slegte bui gesien nie. Dit het onvermydelik daartoe gelei dat hy ‘n humor-bondgenootskap gesmee het met die amper ewe bekende wyle Lou Henning, desjare bekend om sy treffer-spotprente in dagblaaie en later in die Sondagkoerant Rapport. Andries en Lou het die karikature Mike en Kallie geskep en hulle laat grappe vertel. Dit was so gewild dat Mike Schutte, die baie bekende oudbokser, op wie die Mike-karakter gebaseer was, selfs van die spotprente aangevra het om in sy huis te hang!

Onlangs het Andries saam met ‘n medeskrywer ‘n boek met wildsvleis-resepte die lig laat sien. Andries het, ten spyte van ‘n pasaangeër-inplanting ‘n paar maande gelede, steeds baie ysters in die vuur gehad. Hy was die redakteur van die aanlyn-bewaringsjagters se nuusbrief Pot Shot en ‘n nuusbrief “What to Cook”. Daarby was hy ‘n baie aktiewe redaksionele bestuurslidvan K’rant, ‘n internetpublikasie vir oudlede van die vergane Perskor Media en Drukmaatskappy, waar hy een van die ywerigste bydraers was weens sy wye ervaring en kontakte dwarsoor die land. Hy het onder meer hoë lof inge-oes vir syverwerking van die ongepubliseerde memoirs van wyle dr. Willem de Klerk oor hoe sy loopbaan by Perskor sy lewe onherroeplik verander het. Intussen het tientale van sy oudkollegas en vriende dwarsoor die land met skok op sy dood gereageer en boodskappe van medelye aan K’rant gestuur

‘n Gedenkdiens vir hom is Vrydag in Johannesburg gehou.

Leave a Reply