RUGBYMENINGS EEN — BUYSELAGTIGHEDE

Share the news!!!

Share on facebook
Share on whatsapp
Share on twitter
Share on pinterest
Share on email

WILLIE BUYS

Die Superrugby-sneltrein nader nou die pylvak en vir hierdie waarnemer raak dit net al hoe lekkerder om dop te hou – veral op my wyedoek-TV wat elke druppel sweet, spoeg en bloed wat spat na die hoeveelste beenkrakende laag- en hoogvatte rillerwekkend in detail oor en oor wys. Nie dat ek so bloeddorstig is nie want elkeen (lees veral mans weens hul testosteroon-geladenheid) neig na die oeroue fisieke instink van stryd, stry en kompeteer tot den dode toe.

Superrugby is ‘n skouspel vir diegene soos ek wat veilig en geborge in onse huise op die rusbanke met groot ontsag ‘n “jislaaik, sjoe-kreet” (of Blikses!?) uiter elke keer as die super liggame op die grasbedekte vierkante mekaar met maksimum hardloopkrag sidderend en siedend tref in hierdie eienaardige ritueel van gewettigde geweld. Wat ons sport noem.

Is daar iets meer fisiek as rugby op die hoogste vlak in hierdie wêreld van ons? Ek persoonlik dink boks  in al sy variasies – waar die uitsluitlike doelwit is om die teenstander tot oorgawe te dwing deur hom/haar per intensie pap te slaan – is nommer een op die lys. Nommer twee sal waarskynlik beklee word deur rugby, met yshokkie  waarskynlik volgende op dié lys van “vermaak” wat die plek van vlak-onder-die-vel oerdrang van slaan-dood-en-sleep-weg ingeneem het.

Positiewe ontwikkeling: Genadiglik neem dit ook nou die plek in van die tragies-uitmergelende oorloë waarmee die mensdom hom van tyd tot tyd besig hou – wat natuurlik die natuur help om homo sapiens se ongebreidelde selfvernietigingsdrang aan die hand van oorbevolking en dié se aanverwante rampe, in bedwang te bring. Gevolgtrekkenderwys verwys ek na die een of ander wysgeer wat per geleentheid gesê het die oorloë van strydende nasies sal in die toekoms (hopelik) op die sportvelde beslis word. Klink vir my soos ‘n beter roep, dan nie?

Soos in die inleidingsparagrawe geblyk het, sal dié oorlogstryde egter ook nie sonder bloedlating geskied nie. Kyk maar na enige bokstoernooi of rugby- en yshokkiewedstryd en daar sal bloed wees, partykeer strome, partykeer minder! Miskien konstateer ek dit weens ‘n gewetens-aanmaning of om die etiket van barbaars/bloeddorstig vry te spring. Maar dit is hoe dit is!

Ewentwel, hierdie rubriek gaan nie net oor die bruutheid van rugby nie, dit handel ook oor die talle kleiner intriges en dramatjies wat binne die hoofdrama afspeel (op syn Engels beskryf as die “sideshows”) wat al die rolspelers in dié skouspelagtige en ikoniese sportsoort ‘n mens bied. Vir hierdie rubriek se doeleindes sal ons egter vandag net stilstaan by die spelers (soldate?). Hulle wat met amper perfek geprogrammeerde lywe – uiters streng-voorskiftelik tot spierpaleise gebeitel met wetenskaplik-uitgewerkte dieëte, oefen, oefen en nogmaals oefen tot verby satwordens toe – voorberei word vir stryd namens die mensdom en spesifiek die eer van die onderskeie nasies. Hiervan is rugbyheld en Springbok Pierre Spies  ‘n perfekte voorbeeld.

Omdat rugby deesdae ‘n professionele sport is (jammer, dok Danie Craven!) en letterlik miljoene rande op die spel is, kry elke individuele speler ‘n uitgewerkte dieet vir sy besondere behoeftes en die geweldig fisieke eise wat sy rol in die span aan hom stel. Deel van die programmering is die voorseisoense en daaglikse kondisionering in die gimnasiums om dié deelnemers voor te berei vir die strydarenas waar dié “soldate” naweek na naweek in die naam van sport mekaar vir ‘n bloedige en beenversplinterende 80 minute plus pak. Vergeet ook nie die sielkundige sy nie: Wanneer hulle soos in die primitiewe Romeinse era die wedstryd-arenas binnestorm, is elkeen se kop en lyf tot plofpunt toe gelaai met die wenmotief, met gewelddadige uitvoering op die pad daarheen.

Dit is dan letterlik ‘n geval van die bal of die dood…. Dit spruit ook voort uit die voorafgaande week se gedetaileerde ontleding, beplanning en daaglikse folterende oefensessies waar emmersvol sweet spat en vloei, partykeer bloed ook. Wie onthou nie ons eie Kamp Staaldraad waartydens ons Springbokke in die middel van die winter ure moes deurbing in yskoue water nie?  En allerlei ander verbete, onsinnige militêre beproewings wat hulle onder dwang moes deurworstel om hul lywe en siele voor te berei om te aanhou veg tot die laaste druppel bloed uit geskeurde, verrekte en verstuite gewrigte en ligamente in die gras van die strydperke weggesyfer het. Om hulle sterk te maak?

Dit was egter net in navolging van die internasionale tendens, daardie tyd toe oefen(ontberings?)kampe hoogmode was. Al die groot rugbynasies het dit slaafs nagevolg nadat ‘n seëvierende Wêreldbekerkampioen dit wyd verkondig het as een van die redes vir sy sukses. Soos ook die Britse Leeuspan van Martin Johnson op ‘n toer in Suid-Afrika. Onthou die uiters wreedaardige spanpraatjies van dié klomp manne met blomkoolore wat agterna uitgelek het? Daar is sonder omhaal van woorde tydens talle voorafgaande motiveringsessies in tale wat jy nêrens in die Bybel sal vind nie, verklaar: die “Boere” is effen “Japies” (skeldnaam) wat uitgewis moet word. Maar uitgewis is gewis nie die woorde wat gebruik is nie. En dit het kort voor moord gestop in die wedstryde!

Dit het gewerk, moet ek tot my skade en skande erken. Om ‘n term van ‘n oud-sportskrywerkollega, wat so behoudend (lees konserwatief) was dat hy maklik weer die Anglo Boere-oorlog oor sou veg, aan te haal: “Die Rooibaadjies (oftewel Bleekbene) het die Springbokke verneder en onder die stof geloop”.

Wonner wat sou hy gedink het van die onlangse beweerde onmin in die plaaslike Haaie-rugbykamp toe die spankaptein Keegan Daniel glo gesê het daar is te veel Afrikaanssprekendes in die span en dit lei glo tot misverstande. Was dit ‘n gepoogde aandag-afleier van sy span se vrotsige vertonings? Of die plaaslike vuurstoker wat my aangevat oor my Afrikaansheid toe ek nog rubrieke vir die plaaslike gemeenskapskoerant geskryf het? Hy was van mening dat daar te min ruimte vir nuus is in die koerant om dit nog te wil mors op Afrikaans. Hy het agterna ‘n hewige verbale pakslae gekry want Natal is lankal nie meer die Last British Outpost nie.

Vir hom is en was my antwoord kort en bondig (a la Jackie Selebi) “finish en klaar!: ”It takes all sorts to people the world!”

Viva rugby!

Lees meer in die volgende artikel oor die eienaardighede in rugby soos blydskapsriele, “high fives” en die wenmotief van ‘n omgedopte onderbroek….

Leave a Reply