Buyselagtighede: Hoekom word rugby se Alberts ‘Bone Collector’ genoem?

Share the news!!!

 

Deur Willie Buys

Wat het die name Hond, Beast, Bone Collector en Honey Badger in gemeen? Nie veel nie behalwe as hulle mekaar  die stryd aansê op hul een groot gemeenskaplike terrein, die rugbyveld. Miskien het die rugbygeesdriftige oplettendes onder julle al gesnap aan wie dié benamings behoort.

By die skrywe hiervan, was die huidige opwindende jaarlikse Super Rugbyreeks al amper afgehandel. Nou-ja, bogenoemde name is  gemoedelike betitelings vir die jongste geslag uitblinker-spelers wie se uitstaande rugbytalente hulle tot amper ikoniese status in hul eie gemeenskappe verhef het.

Met dié dat die moordende gewroeg en gesloeg van dié strawwe kompetisie nou in die klimaktiese pylvak is, het ek besluit om bietjie verby die somtydse beenbreuk, bloederigheid, kneusings en geskeurde spiere  van spelers te kyk wie met dodelike (my woordspeling) erns letterlik hul lywe op die spel plaas in die naam van sport.

Maar daar is nie net geld en roem verbonde aan dié sport nie,  humor is ook te vinde as jy ‘n noukeurige student is van die dramas waarmee hulle ons elke naweek vermaak soos bv. die byname van spelers wat verband hou met die uiters hoërisiko en fisieke manier waarop hulle hul fortuine verdien.

Laat ek my patriotisme en lojailteit bewys deur eerste met Suid-Afrikaanse brekers weg te spring. Komaan, moenie ontken dat julle nie ook al pure hoendervelbulte oor die hele toeskouerslyf uitgeslaan het nie by die aanhoor van die oerdreuning wat opklink as byvoorbeeld Tendai die Beast Mtawarira, bonkige Springbokstut van die Haaie, iets doen tot die tevredenheid van die toeskouer-dissipels van rugby. Dit is nou die strydkreet-gebulder van “BEASST!, BEASST! BEASST! as hulle die seël van goedkeuring plaas op een of ander stukkie rugby-briljantheid – of sommer net as aanmoediging. Die Beast is 1,86 lank, waaroor ‘n aansielike mensvleis-gewig van 116 kilogram gerangskik is.

Om aan te sluit by my lojaliteitstema noem ek volgende die naam van Beast se spankollega by die Haaie en mede-Springbok Willem Alberts. Nou kyk, Willem is ‘n besondere groot ou (1,92 meter) wat met sy vreesaanjaende  gewig (120kg.) al meermale die sewe soorte dinges uit teenstanders geduik het –  vandaar die bynaam “Bone Collectorr”! Teenstanders het al dikwels gesug: as hy jou “getackle” het, dan bly jy “getackle”!

Nog plaaslikes wie byname as aanhangsels het, is die Vrystaatspeler Boom Pinsloo en die OP-ranker Ligtoring Landman. Geen groot verbeelding nodig om die liggaamlike kloutjie by die oor te bring vir dié name nie! So ook Bees le Roux, voormalige Blou Bul en Lions-stut. Volstaan daarby dat hy ‘n bees van ‘n man is!

Dan is daar die nuwe geslag spelers soos Jacques du Plessis, die amper twee-meter-lange flank van die Bulle wat hom om een ander rede die bynaam Sheepy op die hals gehaal het. Voorts is daar sy voorrykollega by die Bulle, Dean Greyling. Oor sy span-bynaam Wors wil ek liewer nie bespiegel nie. Maar sy ander werklike tweede naam is McGyver, gegrond op die naam van vroeër jare se TV-held wat sy opponente met allerlei toorkunsies tot groot bewondering van Wors uitoorlê het. Nou staan hy bekend as Dean McGyver Greyling.

Nog plaaslike spelers wat vermelding in my humor-akker verdien, is die Stormers-losskakel Peter Grant, wat Bash deur sy rugbymaters gedoop is; Stokkies Hanekom, senter van die Goue Leeus: hoekom hy die benaming Stokkies verdien het, weet ek nie, maar dit is nogal vermaaklik om oor die redes te bespiegel soos dat dit ‘n verwysing is na sy bene of dat hy in sy lewe ‘n voorkeur gehad het vir stokkiesdraai. Ek sal ook nie die speler Hond van der Merwe, ‘n skrumwerker, kwalik neem as hy ietwat gebelgd voel om na ‘n vierpotige dierasie vernoem te word nie want in sommige kulture is dit ‘n erge belediging.

Dan is daar Os du Randt, die Cheetas se skrumdokter en legendariese oud-Springbokstut. As jy die volgende statistiek en sy skof (skouers) in ag neem, sal jy verstaan: hy is 1,90 m lank en het in sy speeldae met ‘n vleisverpakking van 135 kg. gespog, Sy teenstanders het dit waarskynlik ‘n pynverpakking genoem!

As ek so ‘n bietjie in my geheue rondkrap, spring dié name van die helde van weleer op: Tiny Naude, eertydse Springbokslot, vermoedelik weens sy liggaamsgrootte; Piston van Wyk, oud-Springbokhaker; Henry Honnibal, oud-Springbok-losskakel wat die benaming Die Lem verdien het deur die vreeslose manier waarop hy sy teenstanders te pletter geloop het; wyle Domkrag Erasmus, eertydse Springbokstut, wat hom dié naam laat welgeval het, maar dit spottend verander het na Slimkrag! In sy speeldae was daar ook ‘n eenoog-Springbokflank met die naam Martin Pelser. As my geheue my nie in die steek laat nie, moes ‘n wedstryd waarin hy per keer gespeel het, gestaak word om na sy kunsoog te soek nadat dit in ‘n konfrontasie uitgespring het!

Vergeet ook nie die een of ander speler wat Broodwa geheet het nie; ‘n huidige Springbok-sewespeler Kwagga Smith; ooglopende name soos Rusty/Rooies vanweë die kleur van hul haredos en laastens die vroeëre genoemde Honey Badger, of te wel Nic Cummins, Australiese vleuel van die Western Force Super rugby- en Wallabies se nasionale –span. Die letterlike vertaling van Honey Badger is natuurlik ratel, dus meen sy ondersteuners hy is rateltaai

Maar, soos Willem Wikkelspies, alias William Shakespeare, in een van sy klassieke werke gesë het: What’s in a name? A rose is a rose by any other name”…

 

Leave a Reply