Dr. Mike Heaney se sielsgedagte : beweeg aan nadat jy behoorlik gerou het

Share the news!!!

 

Deur dr. Mike Heaney

Soms voel dit of God onmeetlik ver van ons af is in  ons krisisse. Dink aan  die bekende Josefsverhaal in die Bybel. In Genesis 50:20 verskyn Josef se broers voor Josef hul broer. Hy was die een wat hulle as slaaf verkoop het omdat hulle afgunstig op hom was. Uiteindelik sou hy onderkoning word in Egipte. Sy broers moet voor hierdie maghebber verskyn. Hulle het hom kwaad aangedoen en verwag nou terugbetaling. Dit is mos die gangbare by die wêreld. Van tyd tot tyd draai daar flieks in die teater wat die tema van wraak aan die orde stel.  Josef het egter genade van God ontvang en sê vir hulle: “Julle wou my kwaad aandoen, maar God wou daarmee goed doen. Hy het gesorg dat ‘n groot volk nou in die lewe gebly het.” Josef sien die groter prentjie raak. Hy herinner hulle daaraan dat hulle hom kwaad aangedoen het.

Dis nogal ‘n belangrike les in enige konflik-resolusie.  Spreek die saak aan wat tot die onreg gely het. Partykeer sal dit lei tot tronkstraf. Mense kry baie seer in ons dag. Om vasgebind te lê as kind en te sien hoe jou pa in ‘n plaasaanval doodbloei, moet uitmergelend wees.  Om jou pa en ma, of oupa of ouma se verhale oor die apartheidsdae te beleef moet seker ‘n wrang smaak in die mond los.

Dis egter nodig dat ons aanbeweeg nadat ons behoorlik gerou het. Ons kan kwaad nie regverdig nie. Ons mag nie in die verlede leef nie. Josef erken dat slegte dinge met hom gebeur het. Sy broers was skuldig.  Josef het sy jeug ingeboet as slaaf en as onskuldige gevangene. Tog het God aan Hom gesê dat Hy in alles by Josef was en dit ingespan het vir ‘n hoër doel. Soos Romeine 8 dit mos sê: “God laat alles ten goede meewerk vir die wat Hom liefhet.”

In hierdie komende Paastyd sal baie Christene weer op Goeie Vrydag kerke vol sit.  Aan die kruis is Een onskuldig verhoor en gekruisig. God wou egter daarmee goed doen. Uit Christus se sterwe kom daar vir elkeen wat in Hom glo nuwe lewe.  Onthou God se groter prentjie as dit vir jou voel of God ver is.  God was ver van Sy Seun (Hy was van God verlate) sodat Sy Seun naby ons kan wees wat in Hom glo, so naby dat Hy in ons harte woning te maak. God is naby ook wanneer Hy ver is.  Hy is by jou in jou krisis, al beleef jy nou die teendeel.   Waartoe lei jou huidige pyn?  Soos iemand gesê het:  “waarom” is ‘n moeilike vraag om te beantwoord. Waartoe is waar ons rus lê. Vertrou God met jou onbeantwoorde vrae as jy die Paastyd die Heiland, die Lewensvors verag, verguis, aan die kruis opnuut aanskou.

 

Geseënde Paasfees!

 

Leave a Reply