Menu

Buyselagtighede: Dit is wat walvisstropers eintlik vir jou vertel…..

Share the news!!!

Share on facebook
Share on whatsapp
Share on twitter
Share on pinterest
Share on email

Deur Willie Buys

Wat ‘n walglike scenario, dié van verflenterde mense met kapmesse en ander stroopgerei wat ‘n dooie, uitgespoelde walvis op een van ons Suidkusstrande stelselmatig stuk vir stuk opkap. Sommige van dié mense het darem ‘n bietjie skaamte en voer aan dit is vir gebruik as bemesting vir wat ookal hulle aanplant in watter ookal boerderye hulle bedryf.

Ander is meer eerlik en sê reguit dit is manna uit die hemel vir die hongeres. So berig onder andere ehowzit oor die dilemma oor wat om te doen met die walvis wat om een of ander (tragiese?) rede

uitgespoel het op Palm Beach. Dit het tot groot opgewonddenheid onder nie net die betrokke strandgemeenskap nie, maar ook ander inwoners van Suidkusgebiede gelei. Ehowzit het, soos dit ‘n goeie nuusmedium betaam, met woord en video daaroor berig. Daar selfs ‘n meningsopname oor die kwessie gepubliseer onder die hofies Opsny en versprei as kos; Opblaas met dinamiet; wegsleep die see in en Begrawe op die strand.

Geen mense het Begrawe op die strand as ‘n opsie beskou nie. Dit is in die kol want later het dit geblyk die verottende karkas sou die omgewing te veel besoedel en onhigiëniese toestande skep. Die meeste stemme het gegaan vir wegsleep die see in en tweede was Opsny vir kos.

Laasgenoemde het weereens die skreiende armoede waarin ‘n baie groot deel van die sogenaamde Reënboognasie leef, met ‘n skok by my tuisgebring. Dit is daardie einste mense wat weekliks in vullissakke op sypaadjies krap op soek na iets om  te eet of iets om vir kos te verkwansel. Dieselfde mense wat op die vullistortingsterreine met seemeeue, kraaie, hadedas en annerlike soorte opruimingsdiere moet meeding vir ‘n ietsie te aas. Dit is mense wat so desperaat is dat hulle allerlei  aaklige siektes wat die eet van verottende visvleis sal trotseer as om met ‘n leë maag te gaan slaap.

Nou die die ander dag het ek juis gelees Suid-Afrika kan onder sy vele “prestasies”as nommer een in die wêreld gereken word as ook dié nasie met een van die hoogste werkloosheidsyfers, naamlik 37%. Overgeset synde beteken dit meer as ‘n miljoen mense het nie ‘n vaste inkomste nie. Dit op sigself manifesteer in sosiale euwels soos onder andere ‘n amper onbeteuelbare misdaadsyfer waar dié wat nie het nie,  dié wat het op allerlei onwettige – en in Suid-Afrika, uiters gewelddadige maniere – van hul besittings vervreem. Ook skep dit ‘n geil teelaarde vir korrupsie en bedrog, ‘n kultuur van grypsug. Die regering van die dag het hieraan ‘n groot aandeel met sy beleid van transformasie en regstellende aksie en die bevoorregting van slegs ‘n klein groepie struggle-uitverkorenes.

Dit het ook aanleiding gegee tot die stigting van ‘n willewragtige populistiese “politieke” party (as jy so gaaf wil wees om hul dié status te gee!) soos die Economic Freedom Fighters (EFF) van Julius Malema en sy kohorte. Hoe het die wereldbekende Afrikaanse sakeman en filantroop, wyle dr. Anton Rupert, gesê? “As jou buurman se maag leeg is, kan jy nie gerus slaap nie.”

  • In Suid-Afrika is die situasie op krisismatige vlak: kenners waarsku gereeld oor die tikkende tydbom wat aan die geweldige inkomstegaping tussen die armste van die armes en die superryke elitistiese bolaag van die gemeenskap gewyt word. Ook word gewys op die wêreldwye verskuiwing van ekonomiese en politieke mag na die massas deur middel van revolusies om dié ongelykhede en uitbuiting reg te stel.
  • Is ‘n bloedige burgeroorlog ons voorland? Hoe ontlont ons die imminente bloedbad? Die hemel help ons!

Leave a Reply