Buyselagtighede: Prostitute kan ons baie van advertensies leer

Share the news!!!

Share on facebook
Share on whatsapp
Share on twitter
Share on pinterest
Share on email

Deur Willie Buys

Ek, as ‘n deurwinterde en gesoute koerantleser wat grens aan obsessionele verslaafdheid, kry mense wat nie voorreg het om die wêreld binne die koerantblaai te verken nie, baie jammer. Nou goed, ek was my hele werkende lewe lank‘n beroepsjoernalis en het in dié hoedanigheid oor ‘n tydperk van 40 jaar gevorder  van kadetverslaggewer (wat onder meer allerlei bodewerkies ter inisiasie moes doen) tot ‘n groepredakteur van ‘n klompie gemeenskapskoerante by een van die grootste mediamaatskappye in Afrika.

Terwyl ek nou aan die spog is, kan ek ook net noem dat ek die volle spektrum van poste in die oggend- middag- en Sondagpers in verskeie maatskappy beklee het. Ek was hoofverslaggewer, nuusredakteur, en hoofredakteur van nuusburo’s reg oor die westerse wêreld. Uiteindelik het ek hier aan die Suidkus kom afsaal en worstel ook maar partykeer soos talle ander afgetredenes, met die vraag of dit nie alles maar ‘n gejaag na wind was nie….

Daar sal nou seker mense wees wat my van verwaandheid beskuldig. Nee, dit is nie heeltemal so nie. Oukei dalk, maar net ‘n klein bietjie. Die eintlike rede vir dié wintie-aanloop is om dit te kwalifiseer wat nou in hierdie rubriek gaan ontvou. Kyk as julle dit nou nog nie gesnap het nie, ek is ‘n nuus-“junkie”. Wat koerantlees betref, is ek in so ‘n diep groef  dat ek nie tot rus kan kom as ek nie daagliks my oggendkoerant van hoek tot kant deurgelees het nie.

Dit spreek vanself dat ek redelik op die hoogte is van die plaaslike gemors waarin ons landjie hom in hierdie pre-verkiesingstydperk bevind. Van die ANC se verwoede aanslag op die Openbare Beskermer oor haar bevindings rakende die Nkandla-skandaal waarin ‘n ietwat ongure president nou spartel, tot die Julius Malema-demagoog, die vrot onderwysstelsel, die debakel rondom die heffing van tolgeld, regstellende aksie, onbevoegde munisipale owerhede wat alles wat oor eeue tot stand gebring is die grond in (wan) bestuur – en te veel om verder op te noem.

Nou kom ek eintlik by die kruks van my betoog. Hier is soveel ellendigheid rondom ons wat dreig om ons te verswelg, dat ek besluit het om die “doem en gloem”  ‘n ruskansie te gee. Ek wil vandag skryf oor die die oudste beroep in die wêreld, naamlik prostitusie. Hier aan die Suidkus is dit niks vreemds nie en daar verskyn kort-kort berigte in die plaaslike pers oor dié sosiale euwel. Ekself het al stelle met opdringerige en lawaaierige prostitute afgetrap. (Berig hierby)

Terug by my obsessie met koerantlees. Ek het op ‘n klompie kleinadvertensies oor prostitute wat hul ware in die oggendkoerant Beeld adverteer, afgekom. En, nee, ek is lankal verby my manlike menopause en was beslis nie op soek na ‘n buite-egtelike avontuurtjie om my manlikheid te toets nie!

Voor mense nou opgewonde raak oor my moraliteit, verwys ek na die opmerking dat ek koerante van hoek tot kant deurlees. En daarom ook my ondersteunende “prestasielys” wat moet dien as aanduiding van my integriteit. Boonop is ek op my deurleefde en gevorderde leeftyd nie meer so hormoon-betotteld soos ‘n loopse tienerseun nie en vra die vraag: Hoekom ‘n liefdelose iets koop wat gratis tuis beskikbaar is?

Maar kom, lag saam met my oor die die advertensies wat moet dien as lokaas vir die vleespotware wat beskikbaar is. Kom ons val weg met die makkerige klompie wat onder die hofie Masserings gegroepeer is. Sien saam met my die humor in dié een, hoewel ek meen ons gewese Mej. Wêreld Anneline Kriel (nou ‘n meer bedaarde  mev. Bacon, vrou van Peter die hotelmagnaat) ) nie ingnome met die bewoording daarvan sal wees nie. ‘n  Aspirant masseuse van die Moot in Pretoria stel haarself voor as “ ’n Anneline Kriel look alike”, nogals in hoofletters! ‘n Ander een glo blykbaar dit is ‘n pluspunt dat sy mollig is en noem dit pertinent. Hoe ookal, sy  glo blykbaar dit verleen gewig (sic!) aan haar aanbod?

Hiervandaan beweeg ons na die ware Jakob onder die hofie Privaat. En laat ons dit sommer met die intrapslag sê, die een advertensie wil meer “kinky”as die ander wees met talle wat die klem laat val op die (perverse?) dog rassistiese deur etniese afkoms te aksentueer. Meeste van dié advertensies is in Engels, so al asof dit die walglikheidsgraad van die vleeshandelaars se beroep verminder. Wat dit betref het ek in my “navorsing” vasgestel daar is meisies vanuit die hele rasse-firmament wat dit nodig geag het om te sê hulle is van swart, wit-, Kleurling-, of Asiatiese oorpsprong.

Lees net hier: “New top-class coloured ex-athlete”. Volgende: “Nuwe wit meisie, Pta-Noord”. Ek is nou nie heeltemal op die hoogte van die prostitusie-jargon nie, maar nog een kenmerk haar diens as “allnights”.  Dan is daar ‘n paar “Chinese Angels” en Japannese meisies om te benut – teen betaling, natuurlik. Vergeet ook nie van die “wulpse dame, reisend en privaat” nie en dit behoort allerhande erotiese avonture op te tower vir diegene wat ‘n aptyt daarvoor het.

Dan is daar ‘n “verveelde huisvrou”en ‘n “wulpse boere nooientjie” wie se ware aan die bod is. Vir die manne van Rustenburg wie se libido op loop is, is daar ook raad. Die “vrolike meisie (sic!) sê sy is weer terug! (Het nie geweet sy was weg nie!) En: “Jagter, hier is jou blonde bokkie”.

 

Leave a Reply