RUGBYMENINGS TWEE — BUYSELAGTIGHEDE

Share the news!!!

Share on facebook
Share on whatsapp
Share on twitter
Share on pinterest
Share on email

 

WILLIE BUYS

In ‘n onlangse rubriek het ek geskryf oor die internasionale Superrugby-toernooi tussen 15 spanne van Australië, Nieu-Seeland en Suid-Afrika, aangebied onder die akroniem Sanzar, as skouspel. Daarin het ek verwys na gebeure rondom en in die toernooi. Ek het egter doelbewus weggebly van wedstrydverslae. Omdat almal wat hier lees reeds self die wedstryde gesien het, het ek toegespitste aandag gegee aan kwessies rondom wat ek noem die Sanzar-skouspel. Daar is talle ander bedrewe kundiges wat dit beter as ek kan en sal doen.

Ek meen (en glo) daar is talle genotvolle oomblikke wat deur die moderne TV-tegnologie opgepik word terwyl die fanatiese ondersteuner se gestresde oë vasgenael bly op die herwaarts en derwaarts van die bal deur die soepel en geoefende hande van die dertig rugbykrygers op die veld. Omdat dit my nering was as joernalis met sowat 40 jaar se ervaring van soek, kyk en weer te gee, stel ek dié diens gratis en verniet aan julle beskikbaar.

Kom ons begin by die begin, in die kleedkamers waar 30 bolle senuwees plus hul onderskeie gestresde spanbesture in afwagting rondmaal. Party spelers is bygelowig en voer vreemde rituele uit. Ander bid, maar het hopelik al geleer om nie die gode in ‘n dilemma te plaas deur te bid vir ‘n wen nie, want die ander span doen dit dalk ook! Gepraat daarvan: Het julle al opgemerk hoe veral die spelers van die Polinesiese afkoms dankiesê met opgeslaande oë die lugruim in as hulle deur middel van ‘n goedgedrilde spanbeweging ‘n vyfpunter-drie aanteken?

Ander doen weer salto’s, vorentoe of agtertoe, nog ander gee “high fives” en dan is daar diegene wat verskillende blydskapriele dans – party daarvan grensend aan obseniteit om te wys hoe het “ek hulle deur die ore gewerk”. Oor die algemeen heers daar spanbonhomie met spelers wat mekaar bespring, selfs soene uitdeel!

Nog iets wat my laat wonder of die skeidsregters nie die manne wat soos matrose vloek, spesifiek die vierletter F-woord, as hy ‘n ongewilde beslissing maak soos skrum laat val, vorentoe aangee, aanslaan en obstruksie, figuurlik gesproke se monde met seep moet uitwas nie, of terwyl by die gebruik van clichés die kop moet was nie? Kinders kyk ook rugby en leer sulke gedrag is gewoon deel van die spel.

Bygelowe in die spel: Party spelers glo die gode wat beskik oor positiwiteit sal dinge in hul guns laat gebeur deur lawwighede aan te vang soos om ‘n onderbroek agterstevoor of omgedop aan te trek. Daar is ook spelers wat weier om te konformisties te wees deur die veld te betree met hoog opgetrekte kouse: Hulle glo vas in die magiese wenkrag van kouse wat afgeskuif is tot op die stewels! Of die variasie van een hoog op en die ander een op die stewel.

Dan is daar stryders wat hulp van Bo vra (bid) om tog net ongeskonde deur die wedstryd te kom. Om eerlik te wees, sal ek ook ‘n bietjie magiese intervensie vra as ‘n slot van sowat twee meter lank en etlike treë breed met gewelddadige intensies in sy hart aardskuddend op my afgedonder kom! Julle almal ken seker ook die ritueel van spoeg op die hande (om die bal beter te kan beheer?), maar neem kennis dat dit nou vervang is deur een of ander moeti uit ‘n blikkie op die spelers se hande te spuit net voor die opdrafslag.

Daar is ook ouens wat hul geloof stel in die stewels wat op ‘n sekere manier opgeryg en vasgeknoop moet word. Gepraat van tokse, het julle gesien dat vanmelewe se outydse swaar stewels deserdae vervang is deur die allerfraaiste, prettige skoentjies in amper alle kleure van die reënboog. Wonder wat sou die legendariese afrigter oom Buurman van Zyl gesê oor sy geliefde Blou Bulle wat nou soos skouponies in pienk truie (en in sommige gevalle bypassende pienk stewels ook!) die kwylende, fanatiese leërskare aanhangers met hul hoogskop-en-storm pletterrugby tot amperse histerie probeer aanhits?

Wonder ook wat sou hy gesê het oor die “opgejelde” hare in allerlei style en die bonte versameling tatoëermerke op fris arms en bene (en wie weet waar nog?). Het nou die ander dag amper geskrik by die aanskoue van ene Quade Cooper, skitter-losskakel van die Reds. Laasgenoemde span het deesdae baie bont gekleurde truie aan , soveel so dat ou Quadie se een intensief getatoëerde arm weggeraak het teen die agtergrond van sy mengelmoestrui. Ek was bang hy het sy een arm in die hitte van die stryd iewers op die veld verloor!

Voorts: Is die hedendaagse ontvangers van ontsaglike fortuine wat hulle uit die professionele spel kry dan nou pronkende modepoue wat mekaar ook moet probeer troef met allerlei voorkoms-uitspattighede? Of hoop hulle maar net om die aandag te trek van daardie uiters wulpse “trompoppies” in die baie skrapse uitrustings wat gladnie skaam is om die pad na die beloofde land aan te dui nie?  Geen wonder die vies vroue van die manne wat week na week kaartjies koop in die voorste rye (om beter te kan sien, my kind!) kla oor hul aangeklamde, bronstige wederhelftes nie. Dit is nou die slonsige manne uitgedos in allerhande stoepid (met erkenning aan my oupa!) uitrustings en beverf in hul span se kleure, wat heel vroom vroeg-vroeg die dag weg is vir ‘n genotvolle dag van rugby en dan baie later in ‘n opgewerkte en stuitige toestand tuis kom met die hardnekkige aandrang op die onmiddellike uitoefening van sy huweliksregte. Maar so bou ons mos ‘n rugbynasie!

Lees in die derde en laaste aflewering van die huidige reeks oor die buitengewoonhede rondom Superrrugby hoekom party internasionale spelers se koppe hulle laat los en hulle uiteindelik beland op die ashoop van vergane drome…..

 

 

Leave a Reply