Buyselagtighede: totsiens aan ‘n lewensgenoot

Share the news!!!

SKOK BY DIE AANSKOUE VAN DIE DOOSGRIMAS OP GRYSE KAKE……

Willie Buys

Dit was pas nadat ons, bedoelende die Buys-egpaar bestaande uit Estelle en myselwers, van ‘n paar emosioneel-dreinerende dae aan die die Rand teruggekeer het. Hier aangeland, was sy soos gewoonlik wanneer ons haar tuis gelos het om dringende sake te gaan doen, onvoorwaardelik uitbundig om ons weer te sien.

Soveel so dat dat sy neergeslaan en amper spasties begin ruk en tjank het. Dit het egter net, soos ‘n paar vorige kere, liefdevolle groetnis gekos om haar weer tot haar sinne te bring waarna sy soos ‘n magneet aan ons hakke geklou het om seker te maak dit is ons en dat ons haar nie net om die bos lei om dan weer te verdwyn en sy moet terugval in haar troosteloos-leë dae gevul met alleenheid nie.
Moeg vir dié raaisel? Moenie wegloop nie, want wag,  daar is meer, soos ‘n sekere advertensie op die televisie ons wysmaak. Nou kyk, ek pleeg hierdie skryfsel teen die voorskrifte in wat sommige mense as riglyne vir suksesvolle rubriekskryf neerlê. Dit is my ‘n paar jaar gelede ten laste gelê toe ek nog ‘n praktiserende joernalis was en my rubrieke voorgelê het vir beoordeling in ‘n nasionale mediakompetisie. Die betrokke beoordelaar, destyds ‘n baie bekende rubriekskryfster vir Sondagkoerante en ook ‘n bekende bloubloed pasaangeër in die openbare elektroniese media, het een van my rubrieke uitgesonder vir dié snydende kommentaar dat weggebly moet word van sentimentele onderwerpe soos jou kinders en troeteldiere. Toevallig was daardie einste rubriek een van die gewildstes, geoordeel aan die gunstige kommentaar wat ek uit alle oorde daaroor gekry het. Selfs van hoogstaande akademici aan ‘n universiteit in ons verspreidingsgebied.
Maar wag, voordat ek beskuldig word van die ophaal van ou, ego-kwetsende griewe (wat miskien nie heeltemal verkeerd is nie): hierdie rubriek is eintlik ‘n ode aan ‘n lewensgenoot wat ons finaal gegroet het na meer as ‘n dekade as lid van die Buys-huishouding. Haar naam was Kimmie. En as julle geraai het dit is ‘n hond – deur sommige beskryf as die mens se beste vriend – dan is julle reg. Kimmie, ‘n opregte skoothond van die miniatuur Doberman Pinscher ras,  kon nie aanspraak maak op enige uitsonderlike karaktertrekke nie. Net ‘n gewone hond met die gewone maniërismes eie aan haar ras. Hardkoppig geweier om op die vloer te lê as daar ‘n mens-skoot in die omtrek was en kon veral hierdie skrywer teen die mure uitdryf met haar ewige, deurpriemende geblaf vir alles en nog wat – selfs partykeer vir haar eie skaduwee!
Maar ons was lief vir haar en toe die ouderdomskete intree en haar mobiliteit, gehoor en sig begin aantas het sy ons nog nader aan die hart gelê. Maar toe reeds het die verraderlike dood in haar klein lyfie geskuil. Nou bespiegel ons dat sy net op ons terugkoms gewag van die ekskursie na die Rand om daar verskeie erg kranklike, intieme familielede te gaan ondersteun. Soos gesê, sy was so oorweldig deur die weersiens-blydskap dat sy sidderend op die vloer neergesak het, maar liefdevolle trooswoorde en gepaardgaande handelings soos troetelende streling het haar tydelik uit die kake van die dood geruk.
Daardie nag het haar mens-ouers soos dooies geslaap weens ons eie emosionele en fisieke uitputting en ons het laterig die volgende oggend eers ontwaak. Ek het onraad vermoed toe Kimmie nie oggend aan ons kamerdeur gekrap het, soos sy gewoonlik doen nie. Nadat ek verklee het, het ek na die aangrensende kamer gegaan waar sy altyd op ‘n bed geslaap het. Voor die bed het sy gelê, op die matjie wat Estelle vir haar daar geplaas het omdat sy nie meer die krag gehad het om op die bed of banke te spring nie.
Sy het onnatuurlik uitgestrek gelê, pooitjies wydgestrek, en koppie agteroor gespan. Toe ek nadere ondersoek instel, het ek die grimas gesien wat die sterwingsoomblik in ‘n bisarre grynslag as afskeid-stempel op haar gryse kake agtergelaat het. Ook die wyggesperde, onsiende oë wat gerig was op wat, meen ek, die hondehemel kon wees..
Verslae en geskok het ek uitgeroep: “Estelle, die hond is dood!” Met latere terugskouing was ek spyt was oor die onsensitiewe en onwaardige gebruik van die woord hond. Want sy was Kimmie, ‘n deelgenoot van ons familie wat die hele soet en suur brok van ons ewenshoofstuk hier aan die kus saam met ons deurleef het.
Voetnota: Ek vra nie om verskoning vir dié stuk sentimentaliteit nie, want dit is soos dit is… Madame beoordelaar Madeleine van Biljon!

Leave a Reply