Steyntjie aan die braai

Share the news!!!

Share on facebook
Share on whatsapp
Share on twitter
Share on pinterest
Share on email

 

Steyntjie het my genooi vir ete en ons staan by die braaiplek in sy agterplaas. Dis al donker, maar Steyntjie het ’n lig in die braaiplek se skoorsteen laat installeer.

“Ek dink ons kole is nou reg.” Hy hou sy hand met die palm na onder bokant die braaiplek en laat sak dit stadig, tot naby die vuur.

“Oukei, Engel!” roep hy in die huis se rigting. “Ek sit nou die wors op!” Hy beduie na die botteltjie in my hand. “Is jou bier nog orraait?”

Makkie, sy vrou, is in die kombuis besig met die pap en die sous, die broodjies en die slaai. Steyntjie vou ’n knyprooster oop en lig die rol wors met albei hande uit die Pyrex-bak wat op die tafel naby die vuur staan.

“Ek koop my wors mos net by Voorsorg.” Hy lê die wors op die rooster neer.

“Oom Alwyn se wors is die beste.” Dan vat hy na ’n ronde houer langs sy leë bierbottel en strooi iets oor die wors.

“Wat’s dit?” Ek wys na die houer. “Sout?”

Dit was ’n fout, besef ek dadelik – ’n groot fout. Steyntjie is een van daardie ouens wat jy liewer nie moet vra wat hy by die vuur doen nie, anders gaan jy vir die res van die aand ’n braailes kry.

“Geheime resep.” Hy hou die houer voor my in die lug.

Makkie kom met ’n skinkbord vol borde en goed by die deur uit en begin die tafel te dek. Dít het ek ook al geleer: As Steyntjie iets roep soos: “Engel, ek sit nou die wors op!” is dit eintlik ’n opdrag vir Makkie om iets te doen.

“Ek glo jy moet jou wors vinnig draai.” Steyntjie swaai die rooster met ’n flitsbeweging van die pols om. “Jou wors moet nooit te lank lê nie.”

Makkie stap terug die huis in.

Steyntjie vryf oor sy arm. “Engel, kan jy vir ons die Tabbard bring!” roep hy agter haar aan. “Hier’s muskiete.”

Hy bring nóg ’n rooster te voorskyn en begin die steak daarop te pak.

Dis filet. “Ek braai net filet, maar ek lat oom Alwyn hom vir my dikker sny.”

Makkie kom sit die Tabbard by hom neer en gaan weer terug die huis in.

Hy draai die rooster met die wors weer om, en weer, en weer.

“Die wors is amper reg, Engel! En bring sommer ’n nat lappie saam!”

Hy leun oor die rooster. “Jy weet mos hoe kyk ’n mens of jou wors reg is?” Hy tel ’n mes op en prik die wors daarmee. “Sien jy, die sousies moet so daaruit borrel.”

Makkie kom sit ’n ovaalbak en ’n lappie by hom neer en verdwyn weer. Hy pak die gaar wors in die ovaalbak en sit dit eenkant op die vuur. “Ek gaan nou met die steak begin, Engel!”

Hy sit die rooster met die steak op die vuur. “20 sekondes,” sê hy en kyk vir 20 sekondes stip na sy horlosie. Dan draai hy die rooster om en laat die steak se ander kant ook vir 20 sekondes oor die kole sis.

Dan haal hy die rooster weer van die vuur af. “Ek glo jy moet jou steak eers seël.” Hy kyk weer op sy horlosie. “Dan haal jy hom vir 40 sekondes van die vuur af.”

Hy wag vir 40 sekondes en sit die rooster terug op die vuur. “Dan eers begin jy hom braai.”

Makkie kom weer by die deur uit, met ’n bak aartappelslaai en ’n groot, ronde kers op ’n skinkbord. Sy sit dit op die tafel en steek die kers aan.

“Die steak gaan oor vier en ’n half minuut reg wees, Engel!”

Makkie verdwyn weer en kom terug met die bord met die broodjies wat ná die steak gebraai moet word. Sy stap weer terug in die huis se rigting.

“Bring sommer ook gou vir ons elkeen ’n biertjie, Engel.”

Steyntjie bly ’n rukkie stil, dan sê hy saggies, asof vir homself: “Ek kan nie als in hierdie huis alleen doen nie.”

SKRYWER ONBEKEND

Leave a Reply