Waarom sukkel die Sharks? : Wouter

Share the news!!!

Wouter se Watergat

Wouter Willemse

Hallo aan almal hier van eHowzit se webwerf af.  Niks het verander nie, behalwe ons medium van kommunikasie….hopelik is al ons vorige lesersvriende van die afgelope tien jaar gou by ons.

Ek moet sê, die weer hier aan die Hibiskuskus was lanklaas so wonderlik as die afgelope paar weke.   Ons het ure verwyl deur op die Watergat se balkon te sit en oor die see te tuur.  Kan nie onthou wanneer laas ons dit gedoen het nie.   En ons is beloon vir ons moeite en geduld, want kort na mekaar het daardie pragtige Nederlandse seilskepe hier vlak voor ons verbygevaar.  Mooi bly darem mooi, veral ‘n statige seilskip.  En ‘n bikini-meisie, natuurlik.

Die afgelope paar weke se Saterdagmiddae het vir ons baie bitter verloop, want ons kon nie uitwerk wat met die Sharks aan die gang is nie.   Elkeen het ‘n stuiwer in die armbeurs probeer werp, maar uiteindelik het ons vir mekaar gese dit kan  nie net die spelers wees of net die afrigter nie.  Plumtree is mos nie van gister af in hierdie ‘game’ nie.  Wat het geword van daardie span wat soos ‘n ge-oliede masjien geloop het?  Iewers is iets groot verkeerd met die gees en samehorigheid, lyk dit vir my.  Oom Pottie sê dis sweerlik iets te doen met dit waaroor Ryan Kankowski ongelukkig is.  Of waaroor Plumtree met Kankowski koppe gestamp het. Of is daar dalk ‘n verband te trek met Keegan Daniel se uitlating dat daar te veel Afrikaanssprekendes is?    Hy en sy hele bestuur het dit natuurlik heftig ontken dat hy so-iets gese het, maar ek het al geleer, hoe groter die ontkenning, hoe meer die waarskynlikheid van ‘n vuurtjie waar die rokie getrek het.

Gepraat van Pottie;  hy loop hier rond soos ‘n kat wat ‘n karton room persent gekry het. Sy geliefde Lions het mos die Vodacombeker gewen, en sy tweede liefde, die Cheetahs, speel vanjaar soos kampioene.   Hy sien geweldig uit na die uitspeelwedstryd teen die Kings later vanjaar, en meen die Lions gaan die Baai se span nog erger verfrommel as wat hulle met die Samoane gedoen het.  Dat dit Samoa se tweede span was, skeel hom min.    Die Kings het almal nietemin verbaas met hul veggees vanjaar, maar ek is bevrees, hoewel dit nie maklik gaan wees nie, dink ek die Lions behoort hulle gemaklik te klop.

Tant Koekoes Beneke van Bethlehem in die Vrystaat het hier vir ‘n week gekuier, en ons vertel van haar oom Frans wat in die ou dae gedink het hy kan ekonomies lewe.  Hy vra sy plaaswerkers om vir hom ‘n groot gat van sowat ses voet in die ou mate te grou.  Hy sal hulle later sê waarvoor die gat is.  Die manne grom-grom, maar hulle grou.  Laat die Dinsdagmiddag se kant, is hulle klaar met die gat.  Woensdagoggend roep oom Frans die kêrels weer bymekaar en verduidelik waaroor die gat gaan.  Hy sê toe die dieselprys gaan die einste Woensdagaand weer op, en Piet, sy voorman, moet die trok vat en so tien dromme, dis nou 210 liter dromme, laai en by die naaste vulstasie gaan volmaak.  Wanneer hulle terugkom, moet hulle asseblief vir hom die diesel in die froot gat wat hulle gegrawe het, gaan begrawe. Hulle is toe daar weg, en Oom Frans het so ‘n bietjie gaan skuinslê vir die middagslapie.

Toe die manne terugkom, het hulle gedoen wat Oom Frans gevra het, en na hom toe gegaan en gese alles is gedoen.  Voorman Piet klop aan die deur, en toe Oom Frans oopmaak, sê hy die manne het nou klaar die diesel begrawe, en of hulle die leë dromme maar weer in die skuur moet gaan pak.  Om Frans het spierwit geraak, en toe stotter hy: “Wat……..wat bedoel jy met leë dromme…..?” en sak net daar inmekaar. Dit was sy laaste woorde.

Die manne was verplig om weer die grawe uit te haal.

 

 

Leave a Reply