Wouter: die snert wat rugbyskrywers skryf

Share the news!!!

Wouter se Watergat

Wouter Willemse

Groete aan al die lesers van hierdie rubriek. veral aan  dié van julle wat gewonder het wat van ons geword het.  Ons het die afgelope drie weke bietjie vakansie geneem, en die Watergat toegesluit met ‘n kennisgewing buite dat ons almal,vir die eerste keer in elf jaar, op vakansie is.    Oom Pottie is na sy dogter in Germiston toe, vroulief en ek , en die drie spruite, was twee weke lank, ja, twee weke in die Nasionale Krugerwildtuin, waarvan ‘n week in Shingwedzi, ons gunstelingkamp.   In die ou dae het ons altyd gesê die wildtuin bestaan uit twee dele: suid van Satara is dieretuin, en noord van dié kamp is die properse wildtuin. Nie almal stem saam nie, maar nou ja, ek dink nog steeds dis so.  Ons ander personeel was die hele land vol, maar van verlede Saterdag af. is ons weer voltallig.

Pottie het uit Gauteng uit teruggekom met hernieude geesdrif vir sy Goue Leeuspan. Hy het by Ellispark ‘n draai gemaak en met die mense daar gesels, sê hy.  Hulle is vol geesdrif en reken die Southern Kings se doppie is geklink.  Hy kan nie verstaan waarom sommige joernaliste nog dink die Kings het ‘n kans nou Vrydagaand en volgende naweek op Ellispark nie.

Ek stem nie saam dat die Kings nie ‘n kans het nie…..enigiets is moontlik, maar die Lions behoort die relegasiestryd as geheel te wen.   Waar ek wel met Pottie saamstem, is sy stelling oor die nonsens wat die sportjoernaliste soms skryf net om bietjie kontroversie in te bou.  Daar het ek my eie probleme, soos met ene Marco wie se van ons maar sal los, wat in Beeld die Blou Bulle se beeldpoetser is.   Ai tog, die slaafse aanbidding van die ‘wenkultuur’ en al sulke ge-ykte snert is tog te dik vir ‘n daalder.  Nie dat hy alleen is nie……die Burger het sy Stormers-naprater, die Sharks hulle s’n in Beeld en die Volksblad het die Cheetahs se pryssanger.

Ewenwel die ophemeling van die plaaslike span kan ‘n mens nog verstaan, maar wanneer belaglike stellings en geykte uitdrukkings die wêreld ingestuur word, kry ek dikwels ‘n pyn waar ek dit nie wil hê nie.  ‘n Goeie onlangse voorbeeld was toe die Lions se span aangekondig is vir die eerste promosie-relegasiewedstryd teen die Kings.  Toe verkondig ‘n senior skrywer van Beeld dat die Lions besluit het “om te waag met Elton Jantjies op losskakel.” Goeie genade.   Hy het by die Stormers nie so goed soos voorheen by die Lions gespeel nie, maar dis tog weens hulle soort rugby. Daar word hy in ‘n blik gedruk, Naas Botha het dit selfs gesê. Nou gaan hy terug na die span waar hy verlede jaar een van die sterre was, en waar hy sy natuurlike spel sal kan  speel, soos voorheen, en die skrywer meen die Lions waag met hom.   Ja, Marnitz Boshoff het goed gespeel vir die Lions in Jantjies se afwesigheid, maar om te se hulle waag met Jantjies is twak.

Daar is verskeie ander voorbeelde van ons sportjoernaliste se tekortkominge.   Hier by ons in die Sharktenk hetb hulle byvoorbeeld gefaal om uit te vind presies wat aangegaan het rondom die John Plumtree-geval.  Daar is verduidelikings gegee, maar baie dinge is nie gesê nie.   Daar is ook groot ongemak onder verskeie Sharks-ondersrteuners oor John Smit se vermoë om reguit van die speelveld af in ‘n hoëprofiel-pos in te stap, en rugbypolitiek te kan hanteer, en oorleef.  Veral by die Sharks,. Hou daardie spasie maar dop, soos die Engelse sê. Nou ja, ek weet almal stem nie met my saam nie, maar kom ons sien wat gebeur. Sondagmiddag het ons besoek ontvang van dominee Jakkie de Wet van iewers in die Vrystaat. Hy het ons vermaak met ‘n storie wat hy by sy kerkraad gehoor het.

Die leraar in die Gemeente Brakpan-sentraal word afgevaardig om na die Sinodesitting te gaan, daar te luister en Brakpan se stem te verteenwoordig.  Twee weke later is hy weg soontoe, en na nog ‘n week kom hy terug.  Hy besluit om vooraf met die gemeentlede te praat en terugvoer te gee oor die Sinode, voordat hy dit van die preekstoel af doen.

Die gemeente reël toe sommer ‘n rugbykyk en braai by die kerksaal die volgende Saterdagmiddag.  Die manne daag op, en onderwyl die vroue tee maak, steek hulle vure aan en knak ‘n biertjie.  Dis toe dat die dominee hulle tot orde roep en begin praat.  Hy is openlik bewoë en aangedaan.  “Broers, ek weet nie wat om te sê nie, maar ek is inderwaarheid baie geskok.  By die sinode het ons wyd gepraat oor alles wat verkeerd is, en ons het nie doekies omgedraai nie.   Daar het ek toe gehoor ‘n deurtastende ondersoek wat gedoen is deur kundiges wat die Sinodoe gfekontrakteer het, bevind het dat die Brakpan-Sentraal-gemeente die tweede hoogste verbruiker van sterk drank in die kerk is.  Ek is geskok en verneder!

Die hoofdiaken staan op en steek sy hand in die lug.  Dominee, ek is seker ek praat vir almal van ons. Dis vir ons net so ‘n skok en vernedering.  Ek sal met die manne praat. Wees verseker, ons kan hierdie ding nie net daar laat nie.  Ek verseker u dominee, volgende jaar is ons bo!!”

Leave a Reply