Wouter se Watergat — ons is terug!

Share the news!!!

Wouter Willemse

Ons is terug! Weer die hele naweek rugby gekyk saam met mans wie se vrouens die voor-die-televisie-sit van hul wederhelftes nie meer kon vat nie. Veral indien hulle nie die dekodeerders het wat dit moontlik maak dat die res van die gesin na iets anders kan kyk as ‘n geskarrel agter ‘n rugbybal aan nie. Iets waarna hulle in elk geval net kyk, dalk, wanneer die Springbokke speel en aan die wenkant is. Hulle eis dus hul Saterdae terug, en hul mans moet ander planne maak.

Salie van der Walt van Manaba het so drie weke gelede gereeld hierheen begin kom op Saterdae, want sy vrou en tienerdogter het ‘n ultimatum gestel: kyk net een wedstryd in die middag. ‘Saterdagoggende en -aande wil ons toegang he tot ander ander programme’.

Die mans se hul gesinne is maar te bly as hulle die hele Saterdag hierheen kom, op een voorwaarde. Geen oormaat alkohol nie. Van die manne drink glad mineraalwater tussen die biere.

Ons kon die naweek nie met Oom Pottie huishou nie…….om voor-die-handliggende redes. Sy geliefde Goue Leeus het die Vodacombekerkompetisie vir ‘n rekord vyfde keer gewen, en sy tweede gunstelinge, die Cheetahs het hul spogvertonings voortgesit. “Ek se jou, ou Woutie, ek kan nie wag vir die uitspeelwedstryd teen die Kings nie. Ek kan nie wag nie.”

Ek ook nie. Stel julle die uitdrukking op sy gesig voor indien die Kings die Lions looi. Ja, dis onwaarskynlik, maar moontlik.

Salie se bydrae van die dag het gehandel oor ‘n man wat eendag met sy hond die kantoor van ‘n talentsoeker binneloop. “Ek het vir jou ‘n nuwe ster gebring….dis my hond…..hy kan praat,” kondig hy vol selfvertroue aan.

“Ja, ja, ja,” teem die ongelowige talentsoeker. “Kom Siebie,” se die man. “Se vir my wat noem ‘n mens iemand wat moor, roof en steel?”

“Boef!, boef!,” blaf die hond. “En hoe voel skuurpapier?”

“Rof! rof!” blaf die hond met ‘n heserige stem. “Goed, se nou vir my wie was die grootste Suid-Afrikaanse rugbypersoonlikheid in die geskiedenis?” “Naas!, Naas!” maak die hond keelskoon terwyl hy op die grond kwyl.

Die talentsoeker is nie beindruk met die tipiese hondegeluide nie, en jaag die twee uit sy kantoor uit. Die hond kyk in die straat op na sy baas. “Moes ek dalk Danie Craven gese het?”

Pottie se hondestorie het gehandel oor twee vriende wat mekaar in die straat raakloop. “Ek is op pad om vir my ‘n hond te gaan koop.” “’n Hond te gaan koop?” vra die ander een verbaas. “Maar waar op aarde gaan jy die dier aanhou? Jy woon dan in ‘n woonstel op die tiende verdieping!” “Wel, in die somer gaan ek hom op die balkon los.” “En in die winter?” vra sy vriend weer. “Dan moet hy maar inkom.” “En wat van die stank?”

“Ag wat,” se die man, “hy sal maar daaraan gewoond moet raak.”

 

Leave a Reply