Wouter se Watergat: ‘Oor Jake, Heyneke en kinders’

Share the news!!!

Die afgelope week was seker een van die besigste buite-seisoenweke wat hierdie Watergat in sy geskiedenis beleef het. Net ná die nuus versprei het dat ons weer oop is vir besigheid, het mense ons toegesak om te kom groet en te gesels.  Om Pottie moes sy lyf 20 jaar jonger hou en rondhardloop soos min. Toe ek hom vra of hy kan byhou het hy my eers ‘n vuil kyk gegee en toe verklaar: ‘Byhou? Watwou Woutie, ek hou hiervan. Dis honderd keer beter as om sus Johanna se kleinkinders heen en weer skool toe te neem en in die middae op te pas.  Ek het terug verlang hierna.’     Pottie het ses maande lank by sy suster in Germiston gebly toe die Watergat gesluit was, en kon nie gou genoeg terugkom toe ons weer die deure oopgemaak het nie.

En ek moet sê, ek geniet dit ook.   Al die ou gesigte begin so stadig maar seker terugkom, en die geselsies en stories begin weer momentum kry.  Een van die groot onderwerpe van bespreking die afgelope tyd was die Minister van Sport se tirade oor die ellendes van die Suid-Afrikaanse sokkerspan. Kyk, dis te verstane dat die man ongelukkig is, maar om die arme spelers, wat hulself nie gekies het nie. sleg te sê, het alle perke oorskry.   Janneman Beukes van Umtentweni se mening was dat Minister Mbalula geen idee het van wat hy aangevang het nie.  “Toe die media hom daarna vra, gaan hy erger gal af en sê die arme spelers toe eers sleg.  Wat moet dit aan die moreel van die span doen?  En die bestuur? En die afrigter?  Die man is van lotjie getik…weet hy nie dat die probleem by die sokkerbestuur van Suid-Afrika lê nie?  Danny Jordaan is net betyds aangestel…….hy sal die gemors moet uitsorteer.”  Pottie was baie meer uitgesproke.  “Mbalula se optrede is tipies van die huidige regering se arrogansie.  Wat erger is, is dat niemand hom tot orde roep nie. Die president het die naaste daaraan gekom deur bloot te verklaar hy het vertroue in die spelers. En hy het dit heelwaarskynlik gedoen om stemme te werf vir die verkiesing.”

Rugbypraatjies?  Die manne praat nog rugby, maar ná die Sharks se neerlaag teen Saracens, was die atmosfeer so effe gedemp.  Ons besef dis die begin van die seisoen, van die beste spelers het tuis gebly weens beserings, en Saracens is midde-seisoenskerp, maar hulle het die Sharks darem te maklik ore aangesit, veral in die eerste helfte.  Ons hoop maar Jake weet wat hy doen.    Soos Pottie sê, kom ons kyk wat doen hulle Vrydag teen die Goue Leeus.

Die ander sportonderwerp van bespreking was die nuus dat Victor Matfield weer saam met die Blou Bulle begin oefen het. Persoonlik dink ek dis waansinnigheid om te aanvaar hy kan weer sy vorige hoogtes, letterlik en figuurlik, bereik.  Sy ouderdom tel eenvoudig teen hom.  Daarbenewens gaan hy jong belowende spelers uit die Blou Bul-span hou en ek praat nie eens van die Springbokspan nie.  Ek hoop nie Heyneke Meyer is heeltemal van lotjie getik nie.  Ons het besluit indioen hy wel vir Matfield terugbring Springbokspan toe, skryf ons hom af as afrigter.  Hy sal dan bewys hy is die kluts heeltemal kwyt en Blou Bul-befoeterd.

Verlede Woensdag het ‘n pasgetroude paartjie van Roodepoort aan die Wes-Rand hier ingeloer……..George en Janine Greyling….ek en sy pa was jare gelede studentemaats…..dis albei van hulle se eerste huwelik, maar is reeds in hulle middel-dertigs.   George het vertel hulle het onlangs gesels oor kinders……omdat hulle nie meer jonk is nie, wil hulle so gou as moontlik met ‘n gesin begin.  “Ek het haar ingelig ek wil net twee kinders hê om praktiese en finansiële redes.   Sy het my onmiddellik laat verstaan sy wil vier hê, uit en gedaan.  Hoe meer ek met haar geredeneer het, hoe vasbesloter het sy geword.   Uiteindelik het ek die stryd gewonne gegee toe sy ‘n stelling maak wat my oortuig het sy het gewen.”  Hy kyk na Janine, ek kyk na Janine. “En wat het jy gesê, Janine?” vra ek.  “Oom Wouter, ek het bloot verklaar indien hy net twee kinders wil hê, is dit goed so.  Ek aanvaar dit en verstaan sy sienswyse.   Solank hy net nommer drie en vier aanvaar, grootmaak en liefhê soos sy eie.”

Leave a Reply