Wouter se Watergat — ons is terug!

Share the news!!!

Gegroet, al ons vriende en kennisse van die verlede……..ons is terug.   Ons het die Watergat vir ‘n paar maande gesluit, ná tien jaar se sake doen, sodat almal van ons ‘n ruskans kon neem. Dit het die kombuispersoneel ingesluit…….hulle het ‘n maand se salaris vooruit gekry sodat hulle kon rus, maar dan iewers anders kon gaan uithelp totdat die Watergat heropen…indien ons so sou besluit. Dit het van my bankbestuurder afgehang, en ook van vroulief…albei van hulle het hul eie redes gehad waarom hulle gedink het ons moes miskien maar die deure permanent sluit.  Gelukkig het albei verklaar: ‘as dit is wat jy wil doen, moenie dat ek jou keer nie.’

Oom Pottie, lank reeds ‘n wewenaar, het die afgelope ses maande by sy dogter in Germiston gebly, en die ooreenkoms was dat indien sy gesondheid hou, en hy homself sou kon wegskeur van Goue Leeuland af….was hy welkom om weer hier in te val.  Net voor Kersfees het hy laat weet:  “Ou Woutie, ek mis die see, vir jou en al ons kennisse daar…….wanneer gaan jy die Watergat heropen?  Sê net, en ek is daar.”     Net na Nuwejaar het ek hom laat weet om te kom; ‘n dag later het sy 1989 Cressida voor my deur stilgehou.   Net een van die kombuispersoneellede, ‘n leerlingkok, het besluit om by ‘n ander restaurant te bly agv. bevordering tot sjef. Die ander is almal terug….insluitend Beatrice, wat hamburgers kan maak en vis kan bak soos niemand anders nie.  Dus:  die Watergat is oop van Maandag 19 Januarie af.   Daar word eers skoon- en blink gemaak in die kombuis, en ou toerusting herstel of vervang.  Die reuk van verf hang swaar in die lug, en die hele kroeg-toonbank, -stoele en al die restaurant-tafels is opgedollie.  Daarbenewens het ons vier nuwe Sony hoë definisie-TV’s aangeskaf om die voriges te vervang.  Die nuwes is platter, groter, helderder en het selfs ‘n 3D-opsie. Ons is reg vir die volgende tien jaar, indien ons klante terugkeer.

Onderwyl die verwers en die skoonmakers Saterdag hulle afrondingswerk gedoen het, het Pottie en ek met ‘n paar van ons ‘regulars’ op die houtbalkon gesit en oor ditjies en datjies gesels.  Ek kan nie meer onthou wat die belangrikste ‘ditjie’ was nie, maar die interessantste ‘datjie’ was die afgelope ses maande se gebeure by die Sharks.  ‘Is dit nie opmerklik nie,’ was Gert Verhoef van Port Edward se opmerking, ‘hoeveel mense die trekpas gekry het nadat John Plumtree die deur gewys is?’   En dis so waar. Soos in die partypolitiek, is die krag van die ‘patronaat’, soos Van Zijl Slabbert dit destyds gestel het, ontsettend sterk.    Die top man vergader mettertyd sy ‘maats’ om hom, en daar is natuurlik reeds mense wat gesorg het dat hy in die eerste plek aangestel is.

Wanneer daar ontevredenheid met die ‘top man’ is, soos John Plumtree, word ‘n paleis-rewolusie beplan, en sodra hy en sy beskermheer ontsetel is, in hierdie geval Brian van Zyl, val die res soos domino’s.    Soos Gert tereg uitgewys het, Hugh Reece-Edwards en Grant Bashford was nog ‘n rukkie daar om Brendan Venter in die John Smit-era te help, maar toe Jake White die nuwe afrigter word, word die snoeiskêr ingelê en selfs Keegan Daniel is nie meer kaptein nie.  Die bestuur van die franchise lyk ook nou anders met nuwe gesigte.    Hiermee sê  ek nie dat hierdie verwikkelinge nie goed sal wees vir die Sharks nie.  Inteendeel. Maar dit toon weereens hoe die meganismes van die ‘patronaat’ werk.  Dis nie nuut nie. Dit gebeur oral. In ander rugby-unies, maatskappye en sake-ondernemings.  Vra maar vir top-rugby- of krieketspelers hoe hulle begin stres indien die afrigter met wie hulle lank saamgewerk het, skielik vertrek of die trekpas kry.   ‘Wat gaan van my word?’ is die onvermydelike vraag, selfs by die wat die beste in hul posisies is.

‘Dis presies soos jy sê, Woutie,’ was Pottie se bydrae.  Kyk wat het by die Goue Leeus gebeur toe Dok Luyt weg is. ‘Al sy aanstellings en vertrouelinge het óf self geloop of is mettertyd geslag.’   ‘Om nie eers van Francois Pienaar se lot te praat nie.  Toe Kitch Christie deur André Markgraaf  as Springbok-afrigter vervang is, kon Markgraaf nie gou genoeg van Pienaar, die Wêreldbeker-kaptein ontslae raak nie.’

Ongelukkig is dit die realiteit, oral in die wêreld, ons sal dit maar net moet aanvaar.  “Ek wens net dit kan nou in ons politiek ook gebeur,’ was Oom Pottie se versugting. ‘Hoe bly gaan ‘n groot deel van die land nie wees as Jacob Zuma die trekpas kry nie. Nie net verdwyn hy nie, maar ook al sy aanstellings in regeringstrukture wat hom beskerm.’  ‘Waarom dink julle beskerm hulle hom so?’ was Gert se vraag. ‘Hulle beskerm bloot hul eie belange.’

Ewenwel, die storie van die week kom van Bennie, wie se van ek nie ken nie……hy is van Scottburgh, en het Sondag hier ingeloer. Hy het vertel van die man wat skielik verskriklike migraine-hoofpyne begin kry het.  Niks wou help nie, en hy besoek sy dokter. “Weet jy,’ se die dokter, ‘ek het onlangs dieselfde probleem gehad, totdat ek die volgende gedoen het.  Ek het onmiddellik nadat ek by die huis gekom het in die middae, ‘n warm bad getap, en ‘n hele pakkie badsout ingegooi.  Nadat ek ‘n half-uur daarin gelê het, het my vrou my hele lyf gemasseer met olyf-olie.  Net daarna is ons slaapkamer toe en, wel, jy weet wat.  Net ‘n week, en my migraines was weg.  Probeer dit.’

So gesê, so gedaan.    ‘n Maand later loop die dokter en die man mekaar in ‘n winkel raak. ‘En toe?’ vra die dokter.  ‘Het dit gewerk?’  ‘Dok, jy kan nie glo hoe dit gewerk het en hoe goed ek voel nie . Stunning!’ sê die man.  ‘En ek moet jou komplimenteer dokter…..jy het ‘n fantastiese huis!’

 

 

 

Leave a Reply