Wouter Se Watergat – BMW-Motorfietse

Share the news!!!

Wouter Willemse

Dit was ons voorreg verlede naweek om gasheer te speel vir ‘n groep van so tien Johannesburgse sakemanne wat die land deurkruis met hul BMW-motorfietse. Toe hulle hier voor stop, se ek vir Pottie “ek hoop nie dis van die rowwe ouens nie.”

Groot was my verrassing toe die leier, Banie Badenhorst, hom voorstel as ‘n argitek van Roodepoort, en die ander manne se beroepe het gewissel van aptekers tot prokureurs. ‘n Groep manne wat ooglopend nie finansiele probleme het nie, want hul fietse is van die beste nuwe BMW-toerfietse. Banie se hulle het van die Watergat op ons webwerf gelees, en besluit om hier aan te doen op hul reis na Kaapstad en terug na Johannesburg. Wat ‘n aangename lot, feitlik almal Lions-ondersteuners, wat Oom Pottie groot plesier gegee het. Hy het net aanhou se hy is nou tussen “sy eie mense.”

Net jammer die Leeus het verloor onderwyl hulle gesit en kyk het, en nogal teen die Sharks, vir wie die res van die Watergat se besoekers geskree het. Hier was so ‘n verdwaalde Blou-bul wat ook nie so gelukkig was oor die Blues-medisyne wat hy ingekry het nie.

Die BMW-manne het vertel van die sendeling wat hom gereedmaak om van sy sendingstasie in die Suid-Amerikaanse oerwoud af pad te gee na ‘n dienstyd van tien jaar. Hy besef hy het nooit juis aandag daaraan gegee om die plaaslike Indiane Engels te leer nie. Hy kon hulle dialek praat, en het nooit daaraan gedink nie.

Hy neem toe die hoofman vir ‘n wandeling in die oerwoud. Hy wys na ‘n boom, en se op Engels: “That’s a tree.” Die hoofman grom: “Tree.” Die Priester in in sy noppies met die reaksie.

Hulle loop nog ‘n entjie, die sendeling wys na ‘n klip en se “rock”. Die hoofman luister mooi, en se “rock.” Hulle herhaal die proses met ander woorde, en die sendeling raak werklik opgewonde met die resultate wat hy behaal.

Onderwyl hulle so stap, hoor hulle skielik ‘n geraas in die bosse aan die linkerkant van die pad. Die sendeling steek sy kop in die plantegroei in om te sien wat aangaan, en tot sy skok sien hy ‘n jong paartjie wat, kom ons se, goed aan die kefoeffel is. Die hoofman druk sy kop ook deur die blaregordyn. Die sendeling raak verbouereerd en hy se “Man riding bike”.

Die hoofman geen die twee net een kyk, pluk die gifpylkoker en boog van sy rug af, en voor die sendeling kon keer, skiet hy die twee morsdood.

Eers is daar ‘n doodse stilte, en toe begin die sendeling raas. “Ek het jare daaraan bestee om julle die beskawing te leer en om verdraagsaam met mekaar te wees. Hoe de duiwel kon jy die twee mense so koelbloedig doodskiet?”

Die hoofman kyk na die sendeling: “Easy. My bike.”

Leave a Reply